JAAR
KATEGORIE

Breyten Breytenbach

Breytenbach se werk sluit poësie, romans, toneelstukke en essays in, waarvan die meeste in Afrikaans is en ’n aantal oorspronklik in Engels gepubliseer is. Die meeste van sy boeke is in verskeie tale vertaal. Hy is ook bekend om sy skilderwerk en het uitstallings in Suid-Afrika en verskeie wêreldstede soos Amsterdam, Stockholm, Parys, Edinburgh en New York gehou.

Breyten Breytenbach word as een van Afrikaans se grootste lewende digters beskou. Hy is 16 September 1939 in Bonnievale gebore en het in 1957 aan die Hoërskool Hugenote in Wellington gematrikuleer. Hy het Kuns aan die Universiteit van Kaapstad gestudeer. Sy eerste gedigte het in 1959 in die studenteblad Groote Schuur verskyn. 

Breytenbach het Suid-Afrika in die sestigerjare verlaat en is na Parys, Frankryk. Hy het in 1964 met die vernuwende digbundel Die ysterkoei moet sweet gedebuteer en in dieselfde jaar het ’n prosawerk, Katastrofes, verskyn.

Na sy huwelik met Yolande Ngo Thi Hoang Lien (dit beteken “Geel Lotus”), ‘n Franse vrou van Viëtnamese afkoms, kon hy, weens die Wet op die Verbod op Gemengde Huwelike, nie na Suid-Afrika terugkeer nie. In 1973 is ’n spesiale visum vir die eerste keer aan hom en Yolande toegeken en hulle het, te midde van groot mediadekking, vir ‘n skrywerskongres aan die Universiteit van Kaapstad na Suid-Afrika teruggekeer. Tydens ’n besoek met ’n vals paspoort aan Suid-Afrika in 1975 is hy op ’n klag van terrorisme gearresteer en tot nege jaar tronkstraf gevonnis. Na sewe jaar is hy vrygelaat. In 1984 is die Hertzogprys vir poësie vir Yk aan hom toegeken, maar hy het dit van die hand gewys. 

Breytenbach se werk sluit poësie, romans, toneelstukke en essays in, waarvan die meeste in Afrikaans is en ’n aantal oorspronklik in Engels gepubliseer is. Die meeste van sy boeke is in verskeie tale vertaal. Hy is ook bekend om sy skilderwerk en het uitstallings in Suid-Afrika en verskeie wêreldstede soos Amsterdam, Stockholm, Parys, Edinburgh en New York gehou.

 

Ander bekronings

APB-prys (1965) – Die ysterkoei moet sweet en Katastrofes

CNA-prys (vyf keer) vir: Die huis van die dowe (1967), wat ook in 1968 met die Reina Prinsen Geerling-prijs voor Zuid-Afrika bekroon is; Kouevuur (1969); Lotus (1970), waarvoor hy in 1972 ook die Lucy B en CW van der Hoogt-prijs ontvang het; YK (1983) en vir Memory of snow and dust (1989). Perskorprys (1977) vir Voetskrif

Hertzogprys vir poësie (1999) vir Oorblyfsels: ‘n roudig en Papierblom 

Sy digbundel, Die windvanger (2007), is in 2008 met die Universiteit van Johannesburg-prys vir skeppende skryfwerk, die Hertzogprys én die W.A. Hofmeyr-prys bekroon.

In 2010 het hy die Mahmoud Darwish-prys asook die Max Jacob-prys Outre Voix/Voice Over, die Franse uitgawe van Oorblyfsel/Voice Over, ontvang.

 

Publikasies – Poësie 

Altesaam 28 bundels tussen Die ysterkoei moet sweet van 1964 en Die beginsel van stof in 2011

 

Publikasies – Prosa

Van die kort kortverhale Katastrofes in 1964 tot
A Veil of Footsteps in 2008 altesaam 18

 

CD’s

Mondmusiek (2001) en Lady One (2002)

 

Vertalings

Die debuutbundel van 1964, Die ysterkoei moet sweet, is in Engels as The Iron Cow Must Sweat vertaal, gevolg deur vertalings in Engels, Frans, Nederlands, Arabies, Pools, Baskies, Deens, Sweeds, Portugees en Italiaans van nog 21 werke.

“Breyten Breytenbach durf in ‘n bundel verse aan wat volgens baie kenners slegs die prosa beskore is. Hy probeer naamlik om soos ‘n skilder in groot en kleiner doeke ‘n steeds wisselende landskap vas te lê; bestek te neem van ‘n lewensreis as ‘n reeks metamorfoses. Nostalgies word in elegiese toon ‘n klaagsang aangehef oor wat verby is én aan verval toe is: veral miskien die liggaam en sy vreugdes. Tog klink ook ‘n lied van vreugde op juis oor daardie dinge wat – paradoksaal – steeds voortleef in die herinnering, óók as kunsproduk.

Nege landskappe van ons tye bemaak aan ’n beminde word opgedra aan Hoang Lien, die donker beminde. Die donker beminde is egter ‘n fasetryke gegewe: sy is die vroulike aspek van die kosmos, die donker Isis wat kan heelmaak en genees; Kali in wie skepping en vernieti-
ging saamval; die bruid in die alchemie. Maar sy is ook die dood, wat in die beskrywing van Hooglied, donker en lieflik is. ‘Lieflik’, omdat die dood die hergeboorte voorafgaan. In hierdie bundel is dit juis die dood wat teenwoordig is as die ewige beminde, wat paradoksaal sin gee aan die lewe en die aardse vreugdes. Op vreemde wyse word die dood so ook omskep tot muse vir die kunstenaar tydens sy reis op soek na heelheid en insig.” (Commendatio 1996) 

Nege landskappe van ons tye bemaak aan ’n beminde is in 1995 deur A van Dis in Nederlands vertaal.