JAAR
KATEGORIE

Gert Swart

Swart woon en werk al twee dekades lank in Pietermaritzburg. Sy belangrikste uitstalling in dié tyd was Contemplation: a body of work by Gert Swart, in 1997.

Gert Swart is in 1952 in Durban gebore en het aan Queensburgh Boys’ High School gematrikuleer. Hy het in 1972 ‘n Diploma in Openbare Gesondheid aan die Natal Technikon verwerf en is die volgende jaar vir Nasionale Diensplig (Suid-Afrikaanse Mediese Korps) opgeroep. In 1980 het hy sy beroep as gesondheids-
inspekteur bedank en op sy kuns begin konsentreer. Hy het Visuele Kuns onder Andries Botha en Jeremy Wafer aan die Natal Technikon gestudeer.

Swart woon en werk al twee dekades lank in Pietermaritzburg. Sy belangrikste uitstalling in dié tyd was Contemplation: a body of work by Gert Swart, in 1997. Hierin verbeeld hy die redding (van ‘n sondaar) as ‘n metamorfose uit die vloek van die dood tot die hoop van opstanding en hoe hierdie oorgang die individu se verhouding tot die gemeenskap, die natuur en God beïnvloed.

Een van Swart se belangrikste opdragwerke is die monument wat in 1999 by die Isandlwana-slagveld opgerig is. In die verlede is net monumente vir gevalle Britse soldate daar opgerig. Die kunstenaar spreek in sy monument hierdie onreg aan en het ‘n monument ter ere van die gevalle Zoeloe-krygers ontwerp. Oorlog word egter nie hierin verheerlik nie.

Grace is ’n sonderlinge werk. Waar baie van Swart se werk vol woedende verdriet oor die gebrokenheid van ons wêreld, die pyn en swaarkry van ons lewens, die gebrokenheid van ons tegnologiese interaksie met die res van die skepping en die gebrokenheid van ons politieke wanbestel is, handel Grace oor meer as woede. Ja, dit erken hierdie gebrokenheid tot op die punt van sterfte in sy torpedo-agtige doodskis wat oor die Styx-rivier spoed. En tog jubel dit soos ’n reënboog triomfantelik oor die dood, behang met linte wat swiep in die wind; vier dit die verkwikkende vryheid wat in genade beërwe word. Dit dui op ons afhanklikheid – ’n kleiner boot in ’n groter een. Terselfdertyd gee die beeld nie enige ontsnapping aan die materiële wêreld te kenne nie. 

“Die voetstuk wat Grace in die lug hou en wat vir my na swempote lyk, boei my die meeste. Dit lyk soos ’n eend se pote – aards en humoristies. Vir my dien dit as herinnering dat hierdie beskouing van genade in ‘ons’ aardse werklikheid veranker is – iets veel groter as onsself is aan’t werk in hierdie vryheid van die Gees. In dié sin sluit die swempote aan by die boot in ’n boot.” (Bartholomew 1997) 

Die Christelike geloof speel ’n kernrol in sy werk. Oor hierdie reis van gedeelde worsteling met kuns en geloof skryf Gert Swart se vriend, Rick Andrews (1997): “Ons was nie regtig seker presies wat ons onder ‘Christenskap’ verstaan het nie, maar ons was besiel deur die visie van hoop wat daarin vervat is – die heerlikheid onder die oppervlak. Die verpligtinge van die liefde. Ons het van ’n nuwe doelgerigtheid bewus geraak. Die dorings van apartheid het ons om elke hoek en draai uitmekaargeskeur. Die apartheidswette was so kennelik nadelig vir die menslike gees en vir die nasie. Ons kennis was beperk, maar ons entoesiasme het gelei tot diepgaande verkenning, bevraagtekening, beslistheid en ook tye van groot beproewing. Kuns wat uit hierdie oogpunt beoefen word, het in ons tyd die moeilike taak om die seerkry en verborge sjarme, die gruwele en gewonde glorie van mense se lewens in ons konteks met soveel takt te ondersoek dat dit die respek van sekulêre spesialiste, TV-verslaafdes en God se eie volk afdwing …” (Strauss 1997)

Grace (1996), hout, metaal en verf, 188 x 203 x 136cm
Tatham Kunsmuseum, Pietermaritzburg

Foto met vergunning van Tatham Kunsmuseum