Share on facebook
Share on twitter
Share on linkedin
Share on email

Kortlys bekend vir Helgaard Steyn-prys vir Skryfkuns

Die Helgaard Steyn-prys word elke jaar toegeken vir skeppende werk wat die Suid-Afrikaanse kultuurskat verryk. Enige Suid-Afrikaans gebore kunstenaar – om die beurt ’n skilder, beeldhouer, komponis en skrywer – word jaarliks vereer. ’n Kontantprys uit die Helgaard Steyn-trust word aan die vereerde geskenk.

Vanjaar se toekenning word gemaak vir skryfkuns, en enige Afrikaanse werk – fiksie of niefiksie – wat tussen 2016 en 2019 verskyn het in ʼn oplaag van minstens 300 eksemplare het in aanmerking gekom die eerbewys.

Sowat 150 boeke is voorgelê vir beoordeling. “’n Ryke kultuuroes,” noem die sameroeper van die beoordelaarspaneel, prof. Bernard Odendaal van die Noordwes-Universiteit, dit. 

“Die beoordelingsproses moes binne twee maande afgehandel word. ʼn Ontsagwekkende, maar dikwels aangrypende taak, het op die beoordelaars gewag. Dit was vir die paneel ʼn aangename verrassing – en verligting! – dat vyf werke op almal se kortlyste verskyn het. Dit was daarom ʼn betreklik maklike taak om die finale kortlys vir die Helgaard Steyn-prys van 2020 aan te wys.” 

 

Die vyf name op die kortlys, in alfabetiese volgorde volgens skrywersvanne, is:

Lodewyk G. du Plessis se roman Die dao van Daan van der Walt (Tafelberg, 2018)

Elsa Joubert se outobiografiese geskrif Spertyd (Tafelberg, 2017)

Johan Myburg se digbundel Uittogboek (Protea Boekhuis, 2017)

SJ Naudé se roman Die derde spoel (Umuzi, 2017) 

Dan Sleigh se historiese roman 1795 (Tafelberg, 2016)

 

Vorige wenners van die Skryfkuns-prys is:

1988 – Karel Schoeman vir ’n Ander Land
1992 – John Miles vir Kroniek uit die doofpot
1996 – Breyten Breytenbach vir Nege landskappe van ons tye bemaak aan ’n beminde (1993)
2000 – John Kannemeyer vir Leipoldt: ’n Lewensverhaal
2004 – Dan Sleigh vir Eilande
2008 – Marlene van Niekerk vir Agaat (2004) en Hermann Giliomee vir Die Afrikaners (2004)
2012 – PG du Plessis vir Fees van die Ongenooides
2016 – Willem Anker vir Buys

 

Vanjaar se benoemdes en hul werk

 

Lodewyk G. du Plessis se roman Die dao van Daan van der Walt (Tafelberg, 2018)

Opsomming
Toe Daan van der Walt, ’n eertydse Kalahari-boer, ’n vertigo-aanval kry, laai sy vervreemde seun hom by ’n monnikeklooster in China af. Onder leiding van meester Yang moet Daan tai chi doen in ’n poging om sy balans te herstel. Maar daar is ook iets anders wat aan Daan vreet, iets wat hy van sy hart móét afkry voor hy sy weg na die hiernamaals kan vind. Dalk is dit tyd dat hy aan Magrieta, sy oorlede vrou, skryf en sê dat hy haar liefgehad het. In Die Dao van Daan van der Walt word die Afrikaner-dilemma in die moderne lewe met ’n fyn lem oopgevlek.

Oor die skrywer
Lodewyk G. du Plessis is oudregter Andries Buys se skuilnaam. Sy debuut, Die dao van Daan van der Walt, is reeds met die Universiteit Johannesburg-debuutprys, die Eugène Marais-prys, die W.A. Hofmeyr-prys, die ATKV-prosaprys, asook die kykNET-Rapport-prys vir fiksie bekroon.

Die beoordelaars sê
Dit is ʼn uitsonderlike roman wat die leser intellektueel uitdaag, met aktuele vraagstukke konfronteer én emosioneel tref. Dit is ’n selfonthulling van wat agter die pantsers van ’n “stil en sterk” Afrikaner skuil. Op verwikkelde, aandoenlike wyse word veral die pa-seun-verhouding gedissekteer soos dit geraak word deur die “vreemde” van onder meer die gay-identiteit. Die geykte verwagtings oor die rol van sienings oor Christenskap en Afrikaner-manlikheid daarin word verrassend op die kop gekeer . . . ʼn aangrypende leeservaring.

 

Elsa Joubert se outobiografiese geskrif Spertyd (Tafelberg, 2017)

Opsomming
Spertyd is die voltooiing van Elsa Joubert, wat vroeër vanjaar oorlede is, se outobiografiese drieluik wat ingelei is deur ’n Wonderlike geweld (2005) en Reisiger (2009). Dit fokus hoofsaaklik op die skrywer se latere jare in ’n aftreeoord in Kaapstad, maar haar belewenis van die hede en onlangse verlede word onlosmaaklik vervleg met herinneringe aan veel verder terug. Dit word geteken in besondere detail en met die kenmerkende woordvaardigheid van een van Afrikaans se mees gevierde skrywers. Selde, indien ooit, is daar al in Afrikaans met so ’n totale afwesigheid van sentimentaliteit oor oudword geskryf. Dit is egter allermins ’n swaartillende leeservaring, want deernis en humor bly nooit agterweë nie. Spertyd bied nie net insig in die skrywer se lewensbeskouing nie, maar nooi die leser om na te dink oor sy of haar eie bestaan.

Oor die skrywer
Elsa Joubert (1922-2020) is in die Paarl gebore. In 1963 verskyn haar eerste roman, Ons wag op die kaptein, wat onder meer die Eugène Marais-prys ontvang het. Sy is met die WA Hofmeyr-, CNA- en Louis Luyt-prys bekroon vir haar invloedryke roman Die swerfjare van Poppie Nongena (1978), wat in 2002 aangewys as een van die 100 beste boeke in Afrika. Spertyd is reeds met die kykNET-Rapport-prys, ’n ATKV-Woordveertjie en die Louis Hiemstra-prys bekroon.

Die beoordelaars sê
Een van die ontroerendste besinnings via selfvertelling wat oor die ervaring van oudword te lese is. Dit verteenwoordig ʼn stuk wysheidsliteratuur wat op inspirerende wyse ’n diepgaande blik bied op nie net die afgelegde lewe tot aan die “spertyd” daarvan nie, maar ook dit wat (kan) oopgaan na die hiernamaalse toe. ’n Onvergeetlike boek.

 

Johan Myburg se digbundel Uittogboek (Protea Boekhuis, 2017)

Opsomming
Uittogboek, ’n bundel wat van fyn vakmanskap, tematiese en stilistiese verskeidenheid en intellektuele diepgang getuig, is ’n hoogtepunt in die digter Johan Myburg se oeuvre. Temas soos die doodsbesef, die mens se verganklikheid en die optekening van laaste dinge word op subtiele en sensitiewe wyse benader en met ironie en humor deurspek. Myburg bewys hom met hierdie publikasie as ’n digter wat nie net formele verse nie, maar ook vrye verse en langer prosagedigte kan skryf wat die leser op verskeie vlakke uitdaag, gevange hou en betower. Uittogboek is in 2020 met die Hertzog-prys bekroon.

Oor die skrywer
Binne die bestek van drie digbundels het Johan Myburg hom gevestig as een van die mees gerekende digters in die Afrikaanse digkuns; in hoofsaak omdat elke publikasie van hom van fyn vakmanskap getuig wat nie net sy eie nie, maar die totale digkuns verruim. Hy debuteer met Vlugskrif (1984). Sy volgende bundel, Kontrafak (1994), word met die Eugène Marais-prys bekroon. In 2008 verskyn die indrukwekkende Kamermusiek; ʼn bundel waar die kamer die sentrale ruimte is waarbinne handeling afspeel. Myburg het filosofie, sielkunde en teologie studeer en is tans besig met nagraadse studie in visuele kuns.

Die beoordelaars sê 
|Dié digbundel is ʼn volgende hoogtepunt in ʼn digtersloopbaan wat van krag tot krag gaan. Dit bevat ’n kombinasie van belesenheid en gevoeligheid, van historisiteit en aktualiteit, en van seggingsomvang en -krag wat ʼn mens by die lees daarvan herinner aan die ervaring wat net die heel grootste digbundels in Afrikaans oplewer. 

 

SJ Naudé se roman Die derde spoel (Umuzi, 2017)

Opsomming
Etienne is 22 en studeer filmkuns in Londen nadat hy uit Suid-Afrika gevlug het om diensplig te vermy. Dit is 1986, die tyd van optogte teen apartheid, vigs, eksperimentele kuns en die Royal Vauxhall Tavern. Etienne raak verlief op ’n Duitse kunstenaar en kom af op die eerste van drie filmspoele wat tydens die dertigerjare in Duitsland verfilm is. Sy soektog na die verlore spoele word ’n obsessie wanneer sy geliefde vermis raak in Berlyn. Terwyl hy gevaarlike ruimtes weerskante van “die Muur” navigeer, begin die verhaal van ’n groepie Joodse filmmakers in Nazi-Duitsland vorm aanneem. Argitektuur, kinematografie, seks, musiek, siekte, verlies en liefde deurweek SJ Naudé se roerende Die derde spoel, waarmee hy ’n nuwe weg vir die Afrikaanse roman baan.

Oor die skrywer
SJ Naudé is die skrywer van Alfabet van die voëls, wenner van die Universiteit van Johannesburg-debuutprys en die Jan Rabie Rapport-prys. Hy het in die regte aan die Universiteit van Pretoria en aan Cambridge en Columbia studeer en verwerf ’n meestersgraad in skeppende skryfkuns aan die Universiteit Stellenbosch. Alfabet van die voëls verskyn ook in Nederlands en Engels. Die Jan Rabie & Marjorie Wallace-skryfbeurs vir 2014 is aan hom toegeken en sy werk is gepubliseer in Granta en tydskrifte in Amerika, Nederland en Italië. Ná jare in New York en Londen woon hy tans in Johannesburg.

Die beoordelaars sê
Naudé is ’n fyn stilis. Die helder, byna hiperkorrekte Afrikaans wat hy gebruik, sintakties dikwels bondig, staan in ironiese spanning met die geskade lewenswerklikhede van ontwrigte persoonlikhede wat in hoofsaak uitgebeeld word. Die besonder uitvoerige beskrywing van die paranoïese bestaan in Oos-Duitsland in die tyd van “die Muur” is na ons wete die eerste sodanige tekening in Afrikaans. In baie opsigte eggo dit ook die jare van die noodtoestand in Suid-Afrika – jare waarin wantroue en verraad aan die orde van die dag was en die groter ruimte buite die self ook die binneruimte ingrypend aangetas het. Hoewel die roman veral ’n appèl op die leser se intellek maak, onthuts dit ook emosioneel, en ontroer dit soms.

 

Dan Sleigh se historiese roman 1795 (Tafelberg, 2016)

Opsomming
Dit is die winter van 1795. Die Kaap is nog Hollands, maar nie meer vir lank nie. Kommissaris Sluysken van die VOC het sy politieke raad in die Kasteel byeengebring. Hier sit kolonel Robert Gordon, bevelvoerder van die garnisoen. Ook majoor William van Reede van Oudtshoorn, vir wie dié land en dié dorp sy lewe is. Sluysken lees ’n brief voor. Die bevelvoerder van die Engelse vloot by Simonstad dreig om sy matrose op die land los te laat. William se hoop is op die binnelanders, eerder as op Gordon se garnisoen – die boere, so hard soos hierdie vasteland se klippe. Tussen Gordon en Van Oudtshoorn sal die stryd om die siel van hierdie droewe land besleg word. Dan Sleigh het in Eilande die Kaapse pionierstyd tydloos verwoord. In 1795 sien ons die laaste Kaapse maande onder die VOC-vlag. 

Oor die skrywer
Dan Sleigh behaal in 1987 sy doktorsgraad in geskiedenis aan die US. In 2001 wen hy die Sanlam/INSIG/Tafelberg-romanwedstryd vir sy roman Eilande. Dié boek is later ook met die WA Hofmeyr-, RAU-, M-Net- en Helgaard Steyn-prys bekroon. In 2015 wen 1795 NB Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd. Dié roman ontvang in 2017 ook die WA Hofmeyr-prys en die ATKV-prosaprys.

Die beoordelaars sê
Dit is ’n meesleurende roman, gekenmerk deur Sleigh se fyn waarnemings en verbluffende herskeppings van samelewings en wêrelde, groot en klein: vanaf ’n intieme “hofhouding” en die alledaagse lewe op ’n boereplaas van destyds, tot imperiale oorlogsgebeure… leesplesier.