JAAR
KATEGORIE

Peter Klatzow

Klatzow se styl kan as grotendeels afhanklik van die Westerse Klassiek-Romantiese kanon beskou word, met moontlike spesifieke invloedsfere dié vanaf Brahms, Liszt, Ravel, Prokofjef, Copland, Messiaen en ander.

Peter Leonard Klatzow is in 1945 op Springs gebore en het sy jeugjare aan die Oos-Rand deurgebring, waar hy sy eerste musiekonderrig ontvang het. In 1964 is hy na Londen om met ‘n beurs van Samro aan die Royal College of Music in Londen te studeer. Hierna het hy sy studies in Florence en by Nadia Boulanger in Parys voortgesit. Ná sy terugkeer na Suid-Afrika het Klatzow aan die Salisbury College of Music onderrig gegee en as musiekregisseur by die SAUK gewerk. Vanaf 1973 tot sy aftrede was hy ‘n dosent aan die Universiteit van Kaapstad se Musiekkollege. 

Klatzow se styl kan as grotendeels afhanklik van die Westerse Klassiek-Romantiese kanon beskou word, met moontlike spesifieke invloedsfere dié vanaf Brahms, Liszt, Ravel, Prokofjef, Copland, Messiaen en ander. Sy uitgesproke behorendheid tot ‘n bepaalde gemeenskap binne die landsgrense en sy oënskyn-
like huiwering om tot ‘n fundamentele stilistiese “Afrikanisering” toe te tree, het meegebring dat sy musiek as verteenwoordigend “Suid-Afrikaans” volgens bepaalde definisies al bevraagteken is.

‘n Kernelement is sy aangetrokkenheid tot die skilder- en digkuns vir inspirasie. Etlike werke het ontstaan na aanleiding van skilderye van Paul Klee, Douglas Portway, Irma Stern en ander. Sy belangstelling in die Afrikaanse digkuns het reeds in sy skooljare tot ‘n eerste toonsetting van Eugéne Marais se ikoniese gedig Winternag gelei. Van Wyk Louw se werk het onder meer aanleiding gegee tot werke wat dié digter se Drie Diere en Vier Gebede by Jaargetye in die Boland betrek het.

Ook Klatzow se klaviersuite From the Poets – wat in 1994 as wenner van ‘n Helgaard Steyn Toekenning aangewys is – het ‘n sterk verbintenis met die inheemse digkuns. Dit bestaan uit vier werke wat as vrye “ballades” beskou kan word en is gebaseer op drie Afrikaanse gedigte en een Engelse gedig. 

Die titel van die suite – en van die eerste stuk – het sy naam te danke aan D.J. Opperman se gedig Gebed om die gebeente, die verhaal van die rebel Gideon Scheepers, soos deur Scheepers se moeder “vertel”. Die slotdeel van die suite, Impundulu, is ‘n refleksie op die digter A.G. Visser se weergawe van die Zoeloe-
legende van die “blitsvoël” (die weerlig). Die ander twee gedigte is Phil du Plessis se Dae voor Winter en R.M. Bruce se The Watermaid’s Cave. (Grové 2014)

Klatzow het in sy bedankingswoord ná die prysoorhandiging onder meer opgemerk: “Ons is nie meer afgesonder van die internasionale artistieke gemeenskap nie. Maar met hierdie onlangs-ontdekte internasionalisme moet ons nie ons eie identiteit vergeet nie. Dit wat aan ons enig is, moet beskerm en bevorder word. Hoog op hierdie lys is die Afrikaanse taal …” (Klatzow 1994)