JAAR
KATEGORIE

Pippa Skotnes

Die Kaapse kunstenares, Pippa Skotnes, was in 1987 die eerste wenner van ‘n Helgaard Steyn Toekenning vir haar portefeulje Lament/Klaagsang. 1987 [R10 000] Dit is in 1985 as deel van ‘n portefeulje getiteld Shelter/Skuiling uitgegee.

Pippa Skotnes is ‘n kunstenaar, kurator, skrywer en direkteur van die Sentrum vir die Kuratering van die Argief (Centre for Curating the Archive) aan die Univer- siteit van Kaapstad (UK). Sy het die grade M.A. (Visuele Kunste) en D.Lit. aan die UK verwerf. Tydens haar studiejare het sy agt beurse en toekennings ontvang wat haar in staat gestel het om studiereise na die VSA en Europa te onderneem.

Haar hoofbelangstellings is boekkuns, kuratorskap en die San (in die besonder rotskuns en die Bleek en Lloyd Argief), en die visuele as ‘n plek van betekenis.

Belangrike projekte sluit in verskeie publikasies oor die Bleek en Lloyd Argief (gehuisves by die UK se Manuskripte- en Argiewebiblioteek, Iziko en die Nasionale Biblioteek), met inbegrip van Sound from the thinking strings (1991, wat die UK se Boektoeken- ning gewen het), In the wake of the white wagons (1993, wennersuitstalling van die Standard Bank Jong Kuns- tenaars-toekenning), Miscast: negotiating the presence of Bushmen (1996, met ‘n omvattende uitstalling by die SA Nasionale Kunsmuseum), The digital Bleek and Lloyd, ‘n volledige digitale argief wat saam met die boek Claim to the Country (2007) gepubliseer is, Unconquerable

Spirit: George Stow’s history paintings of the San (2008, met ‘n uitstalling by die Iziko Suid-Afrikaanse Nasionale Kunsmuseum SANK).

In 2010 het Skotnes Rock art made in translation gepu- bliseer, wat met ‘n uitstalling by die SANK gepaard gaan, en Landscape to literature (2011), ‘n katalogus vir ‘n gelyknamige uitstalling by die Michaelis Galery, UK, wat die eeufeeskonferensie van die Bleek en Loyd- publikasie Specimens of Bushman folklore herdenk.

Die Lament/Klaagsang-reeks van vier etse beeld armoedige, maar nie onvriendelike, kombuis-interieurs uit. Die leë houers (blikke, bottels, ‘n emmer) het ‘n eie- soortige “lewe”, naamlik leweloosheid.

“Dit dui op ‘n somtotaal van ‘n soort bestaan in ‘n byna hoorbare stilte en halfskadu-atmosfeer – iets wat ‘n mens sou kon herinner aan die verganklikheid en futiliteit van hierdie aardse gebruiksvoorwerpe omdat die gebruikers daarvan, hoewel afwesig, minstens indirek betrek is.” (Ballot 1988)

In twee van die etse uit die reeks is daar ‘n element van lewe, naamlik ‘n fladderende uil (simbool van wysheid, of attribuut van duisternis, nag of selfs die menslike siel). In die een ets word dit volledig uitgebeeld, terwyl daar in ‘n ander werk net die punt van ‘n vlerk sigbaar is.

Sou die uil se fladderende en uiteraard vasgekeerde teenwoordigheid die faktor van verontrusting, be- dreiging, ontneemde vryheid of selfs die onafwendbare dood in hierdie soort sosiale konteks, wat die interieurs noukeurig uitspel, wil simboliseer?

“Sosiale kommentaar oor die hedendaagse kultuur- politiese toestande waarin ons in die RSA leef, is sedert die begin van hierdie dekade nie ‘n ongewone tema in die kunste nie. In hierdie verband is daar egter ‘n positiewe sowel as ‘n negatiewe betrokkenheid wat kunstenaars met hul kunswerke aandui … Kunstenaars word ongelukkig deesdae deur die aanskouers – en ook die owerheid – as rebelle, as radikaal en immoreel, en as ongesonde elemente in ons samelewing bestempel wanneer hulle met kunswerke ‘n soort sosiale kommentaar wil lewer. In werklikheid wil die meeste van ons kunstenaars bloot die kuns dien; is hulle geensins rebelle nie, hoewel hulle dalk verontrus is deur die huidige toestande in ons land.” (Werth 1987)

Lament/Klaagsang I,II,III,IV (1985), ets op papier, 68 x 47.5cm Pretoriase Kunsmuseum, Stad van Tshwane

Foto’s met vergunning van Helenus Kruger,
Kommunikasie, Bemarking en Funksies, Stad van Tshwane.